Mosselbaai vier Diazfees

Mosselbaai vier Diazfees

diaz museum

S A Vloot is Belangrike Gas by Mosselbaai se 523ste Verjaarsdag

Dit gebeur nie aldag dat ‘n 523ste verjaarsdag gevier word nie en nog minder dat ‘n belangrike gas soos die SA Vloot jou partytjie bywoon nie! Mosselbaai is besig om haar mooiste rokkie aan te trek en almal is genooi om saam te kom Diasfees vier. Tot Sondag  6 Februarie is daar ‘n interesssante program in en rondom die Diasmuseum en die hawe. sa navy

Op Donderdag 3 Februarie sal dit presies 523 jaar gelede wees dat Bartholomeu Dias en sy manne voet aan wal by die pragtige Munrobaai gesit het. Hulle het aanvanklik gedink dit is die suidpunt van Afrika, maar strormsterkwinde het hulle heeltemal om die Kaap gewaai en hulle het in die rustige baai kom water soek.

‘n Replika van die Karveel het op Februarie 1988 by Munrobaai geland

‘n Soortgelyke  toneel het 500 jaar later op 3 Februarie 1988 afgespeel toe daar tydens die Nasionale Diasfees ‘n replika van die karveel gebou is en daar weer by Munrobaai kom land het. Die bekende sanger, Carike Keuzenkamp was daardie dag op die boeg van die karveel toe dit om die Punt geseil kom. Sy was een van die kunstenaars wat die skare dié dag vermaak het en die bekende “Bartholomeu Dias”-liedjie is deur haar gesing.

Skepe van SA Vloot besoek Mosselbaai

Hierdie slag  sal daar ander kapteins aan die stuur wees wanneer nie minder as drie skepe van die SA Vloot die hawe van Mosselbaai invaar nie. As deel van die feesvieringe sal die SA Protea, ‘n hidrografies opmetingskip, die SA Umzimkulu, ‘n mynjagter en die SA Tern, ‘n kuspatrollie vaartuig die dorp besoek en inwoners en gaste sal die geleentheid kry om aanboord te gaan.

Die Vloot bring ook ‘n interessante loopbaanuitstalling mee wat Vrydag deur leerders en onderwysers op die skepe besoek kan word. Vir meer besonderhede kan mnr Barry Jooste by 044 691 1067 geskakel word.

Vlootorkes lewer 3 gratis vertonings in Mosselbaai

Nog ‘n groot lekkerte is die SA Vlootorkes wat saam kom en drie GRATIS vertonings in die groter Mosselbaai sal gee. Almal word genooi om die vertonings by te woon. Die orkes sal op Woensdag om 16:00 by die binnehuise sportkompleks in kwaNonqaba optree;  Vrydag om 19:00 in die Mosselbaai stadsaal en Saterdag om 11:00 by die Groot Brak Sekondêre Skool. Vir navrae kan mnr Gouws by 083 429 1457 geskakel word.

Hoogtepunte van Diazfees in Mosselbaai

Die hoogtepunt van die fees wentel rondom die derde. Om 08:00 die oggend begin ‘n rolstoelparade by die Punt en beweeg in Marshstraat op. Om 10:00 sal die SA Vloot hul reg van Vryheid tot Mosselbaai uitoefen in ‘n parade wat by die munisipale kantore in Marshstraat sal plaasvind. Hierna beweeg die verrigtinge na die museum waar ‘n reuse koek gesny sal word en waar feesgangers elkeen ‘n stukkie sal kry.

Om 17:00 hou die bekende argitek, wat ook gemoeid was met die skepping van die Diasmuseum, dr Gawie Fagan ‘n praatjie in die museum en om 16:00 tree die Vlootorkes by die binnehuise sportsentrum in kwaNonqaba op.

Ander hoogtepunte is die musiekkonsert Vrydag om 19:00 by die museum waar die Magnifique Classique groep sal optree asook die Vlootorkes se konsert in die stadsaal.Saterdag vanaf 10:00 – 14:00 is daar ‘n musiekkonsert in die amfiteater by die museum. Groepe wat sal optree sluit in die polisie-orkes, Guiding Stars, Vuka Mama Africa dansgroep, Mosselbaai massakoor asook die Blessed Crew.

Publiek kan Saterdag 5 February die vloot se skepe besoek

Lede van die publiek kry Saterdag van 10:00 tot 16:00 die geleentheid om die skepe gratis te besoek. Skakel die hawemeester mnr Quenton Brink by 044 604 6287 vir meer besonderhede.
Sondag 6 Februarie Kerkdiens en ook Gospel Kusiekfees by Diaz Museum
Sondag word die fees afesluit met ‘n kerkdiens om 10:00  by die museum en van 13:00 sal daar ‘n gospel musiekfees plaasvind.

Vir algemene navrae oor die fees kan die museum by 044 691 1067 geskakel word.