Jakkalsvlei Privaat Wynkelder – Die Ongerepte Juweel

Jakkalsvlei Privaat Wynkelder

jakkalsvlei privaat wynkelder

Herbertsdale se Ongerepte Juweel

Jantjie Jonker, Eienaar en Wynmaker te Jakkalsvlei het ‘n Passie vir wat hy doen

Jakkalsvlei Privaat Kelder – ‘n nuwe naam onder wynliefhebbers word bedryf deur die wynmaker Jantjie Jonker. Hierdie is ‘n wynmaker wat soos hy sê, ‘n passie het vir wat hy doen.  Jantjie is betrokke by elke stap van die produksieproses vanaf die wingerd plant, druiwe pluk, wynmaak, die etiket ontwerp, die wyn bottel en ook die bemarking en wynproe op die plaas. Jakkalsvlei is ‘n naam wat jy maar gerus kan memoriseer want jy kan beslis nog groot dinge van Jakkalsvlei en Jantjie verwag!

Jakkalsvlei Privaat Kelder – die Plek om Druiwe te gaan pluk en Piekniek te hou

jakkalsvlei-piekniek

My eerste besoek aan Jakkalsvlei Privaat Kelder was op 11 Februarie 2011, waartydens die Lalakoi span en vriende druiwe gaan pluk en piekniek gaan hou het in die natuurskoon van hierdie plaas by Herbetsdale naby Mosselbaai. Soos ons deur die hekke van Jakkalsvlei gery het en af gekyk het oor die welige groen wingerde in ‘n vallei, kon ons nie anders as om in verwondering te staar na hierdie versteekte juweel nie. Elke nou-en-dan het die klanke van ‘n “wow” en “sjoe” weergalm deur die motor en kameras is blitsvinnig uitgeruk.

jakkalsvlei-proelokaal

Besoekers aan Jakkalsvlei is Welkom om van Jantjie se Puik Wyne te Proe

Ons het voor die wynproelokaal tot stilstand gekom en is verwelkom deur “Google” en “Fifa”, die base op hierdie plaas. Hulle is die pragtige en vriendelik oppasser honde van die plaas.

Jakkalsvlei is nie net die naam van die plaas nie, maar dit is ook die naam van die omliggende omgewing hier. Jakkalsvlei het sy naam verkry van die aantal jakkalse wat rondom die plaas en omgewing in die berge skuil. Die jakkalse is steeds vandag sigbaar daar en mens kan amper sê dit is asof hulle hul stukkie aarde vanaf die berge lê en oppas.

Jantjie vertel dat dit sy oupa, Nelis Jonker was wat die pionier was van hierdie plaas. Die Jonker’s het al die jare in die Bonnievale distrik geboer. Jantjie se oupa het gereeld na die Jakkalsvlei omgewing gekom om te kom jag en het verlief geraak op die natuurskoon asook  besef hoe vrugbaar die grond hier is. In 1972 het hy die plaas op Bonnievale verkoop en na die Jakkalsvlei omgewing verhuis. Jantjie se pa het in 1987 die eerste wingerd op Jakkalsvlei aangeplant. Sy pa het ‘n gemengde boerdery hiervandaan bedryf en het ook ‘n kelder gehad. Hy het egter nie wyn gemaak om te bottel nie en dit slegs in grootmaat en maak en verkoop. Toe Jantjie in 2005 na die plaas verhuis het hy aan sy pa genoem dat hy graag sy eie wyn wil begin produseer onder sy eie etiket. Dit het egter beteken dat Jantjie van voor af ‘n kultuvar moes aanplant weens die feit dat die kultuvar wat op die plaas was, nie werklik geskik was vir bottel nie.

Hanepoot in die Tuinroete

Jantjie het alles in gesit en in 2008 het hy sy eerste wyn gebottel onder die naam Jakkalsvlei Privaat Kelder. Die eerste wyn wat hier gebottel was was ‘n oes van ongeveer 4 500 bottels. Jakkalsvlei het vining gegroei en Jantjie het so vining ‘n sommetjie gemaak en in 2011 beoog hy om 75 000 bottels onder die Jakkalsvlei naam te bottel.

Jantjie het ‘n passie en liefde vir wat hy doen en plant gereeld nog wingerd aan. Tans beslaan Jakkalsvlei 30Ha wingerd en groot steeds jaar na jaar.

Mosselbaai het die Ideale Klimaat vir ‘n Wynplaas

Volgens Jantjie is Herbertsdale ‘n ideale omgewing vir verbouing van wingerd. Die klimaat is lekker warm en aangesien hulle aan die see se kant van die Outeniquaberge is, is die dae lekker warm, maar koel dit in die aande bietjie af. Herbertsdale lê ook ver genoeg van Mosselbaai af dat hulle nie die mis van die see oor die wingerd kry nie. Die grond is ook heel uniek hier en hulle het verskillende dele. Plekke waar daar klipgrond is, ander met klei grond sowel as rooi grond. Die plaas loop op verskillende helings,’n Suidelike heling wat koel is en ‘n warm Noordelik heling. Die omgewing het egter ook een nadeel. Dit is dat die omgewing in ‘n Somer reënvalgebied val. Druiwe wil nie water hê wanneer hulle begin swel nie en dit kan soms nogal vir enige wynboer nagte van wakker lê veroorsaak. Jantjie sê dat hy ook baie gelukkig is met die feit dat Jakkalsvlei nooit ryp kry nie.

Jakkalsvlei verbaas beoordeelaars by Suid Afrikaanse Jong Wyn Skou

Jantjie Jonker het reeds ‘n string toekennings verwerf vir die Jakkalsvlei wyne onderandere in 2009 het Jakkalsvlei se hanepoot beoordeelaars by die Suid Afrikaanse Jong Wyn Skou verbaas en weggestap as die HJ Etchell algehele kampioen Nageregwyn.

In 2010 is Jakkalsvlei se Rooi musikadel ook aangekondig as die kampioen op die SA Jong Wyn Skou. Jakkelsvlei Privaat Kelder se rooiwyne doen ook baie goed en in 2009 is die Mount Cuvee vereer met ‘n brons medalje. Dit is ‘n ligte, droë rooi wyn wat graag saam met ligte maaltye bedien word.

Jantjie is baie trots op die reeks wyne wat Jakkalsvlei Privaat Kelder bied. Dit is onderandere die  Cabernet Sauvignon, Merlot, Pinot Noir, Pinotage, Ruby Cabernet en Shiraz. Die Chenin Blanc, Colombard, Sauvignon Blanc en Semilion maak onder meer van die wit wyne uit. Vir nagereg wyne bied Jakkalsvlei Rooi Muskadel en Hanepoot.

‘n Nuwe Wyn in 2011 uit die  Kelder van Jakkalsvlei is die soet wyn  White Pearl

Jakkalsvlei bring in 2011 in nuwe wyn uit onder die naam ‘White Pearl’ -  ‘n soet wit wyn. Dit is n kombinasie van Sauvignon Charden en Cheninblanc. Daar sal ook ‘n nuwe Pinotage en Pinot Noir uitkom.

Wanneer jy in ‘n gesprek met Jantjie betrokke raak oor sy wyne kan jy nie anders as om vining te besef dat hierdie man ‘n passie vir sy plaas en wyne het nie. Jantjie het ‘n trots oor wat hy doen en hoe hy dit doen. Daarom is die duidelik dat Jakkalsvlei Privaat Kelder nog deel van die groot name in die wêreld sal word. Jantjie wil die 1ste Maart 2011 nasionaal gaan met sy wyne en in 2013 wil hy internasionaal gaan en sy wyne ook aan Europa en die Ooste bekendstel.

Buiten vir die opvallende eienskappe wat Jakkalsvlei Privaat Kelder uniek maak soos die prag natuurskoon en rustigheid wat oor die plaas en omgewing heers, wou ek by Jantjie uitvind wat volgens hom Jakkalsvlei laat uitstaan bo ander kelders. Jantjie het aan my meegedeel dat niemand anders doen wat wat Jakkalsvlei doen nie. Hy is ver geleë van enige ander kelder en omdat Jakkalsvlei so ver buite die naaste dorp geleë is kan ‘n mens duidelik die struikelblokke verstaan waarmee Jantjie sit, maar tog verower Jakkalsvlei die meeste pryse. Jantjie sê dat sy styl van wynmaak uniek is en dat hy meer fokus op die vrugte smaak van die wyn.

Pluk jou eie Hanepoot op Jakkalsvlei Privaat Kelder

Met my mandjie gedrapeer oor my arm, my kamera om my nek gehang en snoeiskêr in die hand het ek rustig tussen die wingerd op Jakkalsvlei rondgestap. Vir die eerste keer sedert ek ‘n klein dogtertjie was het ek weer die geleentheid gehad om my druiwe self te pluk. Oral om my was mense wat gelag het en tussen die wingerde rond geloop het opsoek na net die beste druiwe, en dis presies wat hul gevind het. Na ek my mandjie lekker vol gepak het en laat weeg het, het ek myself gaan tuismaak op die grasperk voor die proelokaal en rustig aan ‘n glasie Jakkalsvlei wyn gedrink.

Jakkalsvlei bied vanaf 11 Februarie 2011 tot 12 Maart 2011 hul “Pick your own hanepoot” aan. Toegang is gratis en jy betaal slegs ‘n minimale fooi van R4,50 per kilogram hanepoot wat jy pluk. Dis die ideal geleentheid om ook n piekniek mandjie te pak en die rustige van die omgewing te kom geniet.

Barefoot Grape Dance op Jakkalsvlei

Op die 5de Maart bied Jakkalsvlei ook hul eerste “Barefoot Grape Dance” aan. Die dag gaan gepaard met musiek, wyn, kos en die pars van die druiwe. Dit beloop om ‘n dag vol pret te wees en elke persoon wat die dag gehelp het om die druiwe te pars, sal hul eie bottel wyn kry sodra dit gebottel word. Die bottel sal dan spesiaal by hul huis afgelaai word.

Jakkalsdraai Bergfiets Maraton op Jakkalsvlei Privaat Kelder

Jakkalsvlei Privaat Kelder lê vasgevang tussen klowe en berghange. Dit maak dit ook die ideal bestemming vir die Jakkalsdraai Bergfiets Maraton wat op die 29ste Oktober 2011 hier gaan plaas vind. Die roetes wissel vanaf 10km, 30km en ook ‘n 55km roete wat oor die hele omgewing is. Jy ry 4 keer oor die Gouritsrivier, deur wingerde, olyfboorde, teen berghange uit en jy kry die geleentheid om die ongerepte deel van ons area eerstehands te beleef.

Jantjie is ‘n ambisieuse wynmaker en besigheidsman met ‘n groot visie vir Jakkalsvlei Privaat Kelder. Jantjie het reeds die kelder uit byna niks uit opgehou tot ‘n kelder wat met toekennings wegstap en besig is om die een van die gewildste kelders in die omgewing te word. Hy beplan om in die toekoms ook selfsorg eenhede sowel as ‘n restaurant op die plaas te bou.

Vir meer inligting kan die Jakkalsvlei Privaat Kelder gekontak word op 028 7352061